fbpx

Saai sê nee vir nuwe apartheidswette

In die aanloop tot die 2024-verkiesing het die ANC wetgewing en regulasies goedgekeur en voorgestel wat feitlik onmoontlik is om na te kom in die parktyk en heeltemal moreel onregverdigbaar is. Saai het in ’n vergadering met 25 organisasies beklemtoon hoe verwoestend die impak van beide die Wysigingswet op Diensbillikheid en die drakoniese rasgebaseerde kriteria vir waterlisensies op landelike werksgeleenthede, lewensbestaan en voedselsekerheid sal wees.

Nakoming van die Wysigingswet op Diensbillikheid sal vir die meeste ondernemings die einde beteken. Dit sal die mees omvattende sosiaal-gemanipuleerde veldtog ooit wees. Deur 600 000 wit, Indiër en bruin bestuurders met swart bestuurders oor die volgende vyf jaar te vervang, sal swart werkloosheid hoogstens van 36% tot 34% afbring. Dít alles terwyl duisende sakeondernemings in die proses vernietig word.

Die meeste plase is familieondernemings, hoe kan die regering swart ekonomiese bemagtiging (SEB) op ’n gesin wil implementeer?

“Saai stel dus voor dat ons lede eenvoudig nie die wet nakom nie terwyl ons druk op beleidmakers verhoog deur regstappe, massamobilisering, beinvloeding van buitelandse regerings en multilaterale instellings, burgerlike ongehoorsaamheid en openbare veldtogte teen die herinstelling van ’n rasgebaseerde bedeling soortgelyk aan apartheid,” sê Theo de Jager, raadsvoorsitter van Saai.

Saai glo nie dat dieselfde regering wat die staatsbeheerde entiteite (SOE’s), staatsdienste en Suid-Arika se kredietgradering vernietig het, wat nie die ligte kan aanhou nie en geen sukses in die vermindering van armoede het nie, nou die ekonomie kan laat groei of dat hierdie nuwe apartheidswette ’n positiewe uitkoms sal hê nie.