fbpx

Verbod op vals vleisetikettering verwelkom

Saai verwelkom die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se beslissing dat plantgebaseerde alternatiewe vir diereproteïen nie as vleis, suiwel of eier bemark mag word nie.

Die publiek word daardeur mislei en ten spyte van anti-vee aktiviste en maatskappye, wat op ’n onregmatige wyse wins maak deur voor te gee dat hulle diereprodukte doeltreffend vervang, se luidkeelse besware is dit van oorlewingsbelang vir veeboere dat die integriteit van hulle produkte in die markplek beskerm word.

Anti-vee aktiviste mislei die verbruiker nie net met etikette wat voorgee om vleis, suiwel of eier te wees nie, maar ook met pseudo-wetenskap wat berus op valse aansprake dat diereproteïen negatiewe implikasies vir gesondheid, die klimaat, bio-diversiteit of dierewelsyn het.

By die Verenigde Nasies (VN) se Voedselsistemeberaad van Augustus 2021 het die wêreld se top wetenskaplikes bewys dat daar geen negatiewe gesondheidsimplikasies as gevolg van diereproteïen in die menslike dieet is nie, inteendeel, sekere noodsaaklike voedingstowwe soos vitamiene B12 kom in diereprodukte voor.

Die anti-vee aktiviste is ook nie eerlik oor die klimaatvoetspoor van vleis- en suiwelproduksie nie.  Die vrystelling van metaangas deur herkouers is deel van ’n kort siklus waar afgevrete weidings meer koolstof sekwestreer as dié waarin die metaangas in die atmosfeer afgebreek word. Dit kan nie met die vrystelling van koolstof uit fosielbrandstof in die energie- en vervoersektore vergelyk word nie.

Die vegetariesebeweging openbaar ook nie die koolstofvoetspoor en impak op biodiversiteit wat miljoene meer hektare bone, waaruit plantgebaseerde alternatiewe vir diereprodukte vervaardig moet word nie.

Die enigste belanghebbende in die voedselsisteem wat voordeel uit die plantgebaseerde proteïen beweging trek, is groot verwerkingsmaatskappye wat mag in die waardeketting buite die plaashek sentraliseer, boere tot kontrakwerkers reduseer, en groot winste maak.

As ’n kampvegter vir die belange van kleiner en mediumgrootte familieboere, sal Saai onverpoosd die valsheid van die anti-vee aktiviste aan die kaak stel en beleid beïnvloed om aan die veeboer ’n regmatige plek in die voedselsisteem te verseker.