fbpx

SAPD het geen beleid of riglyne om onwettige betreding te bekamp nie

SAPD het geen beleide of riglyne om onwettige betredings te bekamp

’n Beampte van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het telefonies aan die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) se regspan gekommunikeer dat die SAPD geen beleide of riglyne het wat verband hou met die bekamping van onwettige betredings nie. Die SAPD besit ook nie enige assesserings of evaluasies van die doeltreffendheid van maatreëls wat getref is om betreding te voorkom nie. Hierdie inligting het aan die lig gekom nadat Saai sedert Februarie met sy formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) druk op die SAPD toegepas het om inligting en statistieke oor betredings te verskaf.

Saai se bestuur gaan nou versoek om met Senzo Mchunu, die minister van Polisie, te vergader om moontlike oplossings vir die afwesigheid van die nodige beleide te bespreek. Dié familieboernetwerk wil hierdeur die volgende stap moontlik maak deur vir hul regspan opdrag te gee om beleide oor die onwettige betredingskwessie vir die SAPD op te stel.

“Saai se missie is om ons lede se regte te beskerm en die toenemende voorvalle van onwettige betreding lei tot verskeie misdade – van onwettige jag en brandstigting tot diefstal en plaasaanvalle. Dit is waarom Saai wil ingryp om daadwerklike oplossings vir probleme te bied wat ons familieboere raak,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Luidens die rekords wat die SAPD aan Saai gestuur het, is daar ’n totaal van 15 321 sake van betreding tussen 2019 en 2024 ondersoek. Van die 15 321 sake is daar 17 508 persone gearresteer: In sommige gevalle is meer as een persoon gearresteer, terwyl daar in een spesifieke voorval 68 persone in hegtenis geneem is en dan is daar ook betredingsake waar geen arrestasies plaasgevind het nie. Met 17 508 arrestasies, is daar egter slegs 4 383 persone skuldig bevind. Volgens die SAPD se rekords is 688 persone onskuldig bevind – wat het egter geword van die 12 437 oorblywende persone wat gearresteer is? Daar word op die rekords gestel dat ’n skokkende getal van 9 539 sake van betreding teruggetrek is, maar dit laat steeds amper 3 000 sake onverklaarbaar. Die data, wat wys dat die meeste betredingsake in die Wes-Kaap ondersoek is, kan ook nie blindelings geïnterpreteer word as ’n bewys dat dit die provinsie met die meeste gevalle van betreding is nie, want die rede daarvoor kan wees dat die Wes-Kaapse SAPD meer doeltreffend is.

Die grafiek toon dat in al die provinsies van 2019 tot die begin van 2024 minder as 50% van arrestasies wat met betredings verband hou tot skuldigbevindings gelei het.

“Die syfers wat die SAPD gee, is onsamehangend en dit maak die geloofwaardigheid daarvan onwaarskynlik. Indien die syfers wel korrek is, bly dit kommerwekkend, want dit wys dat 62% van betredingsake teruggetrek is,” sluit Rossouw af.

“As u al enige probleme by ’n polisiekantoor ondervind het om misdaad aan te meld, laat weet ons asseblief by 066 071 6094.”

Saai is vanjaar besig om verskeie stappe te neem om die dreigende betredingskwessie te takel en benodig boere wat hulle in kennis kan stel van onwettige voorvalle van betreding (Staan Saam teen Betredings op Plase – SAAI).