Saai-hofaksies lei tot nietigverklaring van Vlak 3

Druk uit verskeie hofgedinge teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), se irrasionele regulasies onder Vlakke 4 en 3 van die ramptoestand het haar genoop om op 17 Augustus 2020 in ’n ongewone stap Vlak 3 in sy geheel te skrap. Dít volg nadat Saai op verskeie fronte geveg het teen die drakoniese inperkingsregulasies, insluitend teen die verbod op tabak- en alkoholverkope en die beperking op jag.

Die besluit deur Dlamini-Zuma volg nadat Saai in sy hofstukke uitgewys het dat die besluit om alkoholverkope te verbied, geskoei was op verouderde data, swak beredenering en foutiewe vooruitskouings, soos wat ook in Saai en BATSA se hofgeding van 3 Augustus 2020 teen die verbod op tabakprodukte aan die lig gekom het. Ook in haar hofstukke oor die verbod op wynverkope het die Minister ernstig kleigetrap en nie wetgewing wat wyn van ander alkoholprodukte onderskei, in ag geneem nie. Die Minister het ook gekla oor die logistiek betrokke om moontlik drankverkope in sekere provinsies toe te laat. In dié verband het Saai uitgewys dat die normale struktuur van drankregulering ooreenkomstig die Grondwet reeds op provinsiale vlak hanteer word. Waarnemende adjunkregter-president Sulet Potterill het Vrydag besluit om Saai se dringende aansoek om ongeveer 240 familiewynplase en 21 000 werkgeleenthede daarop te red, na 24 Augustus 2020 te skuif sodat dit voor ’n volbank kan dien.

Voor die uitvaardiging van die nuwe Vlak 2-regulasies het die Minister se regspan Saai reeds op 16 Augustus versoek om die saak teen die wynverbod terug te trek ná pres. Cyril Ramaphosa se toespraak. Saai het geweier om die saak van die hofrol te verwyder in die lig van die Minister se vorige promulgering van regulasies in kontras met die President se toesprake. Dit was vir Saai van kardinale belang om die bewoording van die Vlak 2-regulasies deur die regspan te laat bestudeer alvorens enige besluit geneem is. Die Minister het Maandag die land geskok en Vlak 3 in geheel nietig verklaar. Dit beteken dat sy nie, soos sy voorheen gedoen het en algemeen gevrees is, na Vlak 3-regulasies kan terugkeer nie, behalwe as ’n stelsel vir Vlak 3 weer gepromulgeer sou word. In die oorskakel van Vlak 5 na Vlak 4, en van Vlak 4 na Vlak 3, is die regulasies bloot aangepas sonder dat die vorige vlak nietig verklaar is. Die Minister se optrede is dus in direkte teenstelling met die beleid van die regering om vlakke van regulering in plek te hê en dat daar op of af tussen die vlakke geskuif kan word.

Saai beskou die drastiese optrede as ’n lafhartige poging om die soeklig van die howe op die rasionaliteit van haar buitensporig beperkende maatreëls te ontduik, veral teen die agtergrond van groeiende openbare verset, toenemend kritiese beriggewing in die internasionale media, en veral die vernietigende uitwerking wat dit op werkgeleenthede, ondernemings, staatsinkomste en die ekonomie in geheel gehad het. Dit is ’n erkenning van ’n flater wat nog geslagte lank by Suid-Afrika sal spook.

Die wild- en jagbedryf, die wyn- en tabakwaardekettings en volstruisplase lê soos ’n slagveld van onbedoelde gevolge wat honderdduisende gesinne sonder ’n werk of inkomste laat en ’n reeds wankelende ekonomie vermink het waar Suid-Afrika dit die minste kan bekostig – in die landelike gebiede. Terwyl die ANC-regering gaan sukkel om weer vertroue of respek te bou onder produsente, groot en klein, ryk en arm en swart en wit, het die Minister se buitengewone stap om Vlak 3 nietig te verklaar, gewys dat konfrontasie deur hofaksies veel doeltreffender as gesprekvoering met die regering is. Integriteit, rasionaliteit en ’n korrupsievrye regering is ’n voorvereiste vir onderhandelde beleidsbeïnvloeding. Dit is veral skokkend dat die Minister in die hofgeveg so laag gedaal het om te insinueer dat Saai ’n apartheidsisteem wou skep deur wynverkope moontlik in streekverband toe te laat. Dit terwyl die Minister self vroeër die stelsel geskep het wat dit moontlik maak om regulering op grond van streke en munisipale gebiede te onderskei.

Intussen is Saai en verskeie van sy netwerkvennote wat ook die belange van familieboerderye voorop stel, reeds besig met ’n uitgebreide strategie: “Herbou nou beter”. Dit is daarop gemik om landbou se afhanklikheid van die staat te beperk en die afwesigheid van dienste en staatshulp uit privaat bronne te vervang. Alternatiewe vorme van ramphulp, koöperatiewe finansiëring, landboutegniese adviesdienste (veral vir opkomende boere) en innoverende veldtogte soos Boer-tot-bord en Die Wynboer vorm deel van ’n geïntegreerde poging om soveel as moontlik gesinsboerderye te help om te oorleef en hulle op hulle plase te hou. Daar word ryklik van internasionale voorbeelde en hulp gebruik gemaak om deur korter waardekettings en direkte bemarking ’n groter voordeel vir sowel die produsent as die verbruiker te beding.

In die lig van die opheffing van die drakoniese verbod op wynverkope gaan Saai sy aansoek teen Dlamini-Zuma sine die uitstel.