’n Ope brief aan president Ramaphosa

Beste pres. Ramaphosa

Ek verwys na u ope brief vroeër vandag aan Suid-Afrikaners in die algemeen en boere in die besonder.

Baie dankie dat u dit geskryf het. Ten minste is u nou betrokke by ’n debat wat gevaarlik naby aan oorkook is. U het ’n standpunt op die tafel geplaas waaragter daar denke is. Dit is duidelik dat die meerderheid boere – en dit is daardie gedeelte van ons gemeenskap wat oor die vermoë beskik om ons land tot stilstand te bring – nie met u standpunt saamstem nie en ook nie met die aannames waarop dit gegrond is nie.

Die plofbare polarisering van ons gemeenskap is deur nóg ’n plaasmoord aan die brand gesteek. Boere, hul vriende en dié wat met hulle simpatiseer ruk al meer op om te betoog teen dié wreedaardige verskynsel, wat deur u regering ontken, afgeskeep en selfs aangestook is. Van oral oor die land heen kom hulle byeen om hul eer te betoon en in die leed van slagoffers en hul geliefdes te deel. Maar hulle kom ook byeen om hul teleurstelling uit te spreek oor die giftige omgewing wat die ANC geskep het en waarin dié verskynsel gedy. Hul woede en frustrasie het kookpunt bereik – soos ons in Senekal gesien het. Hulle kom byeen om te eis dat ons plaasaanvalle (gemiddeld een elke twee dae) en die wreedaardige moorde (gemiddeld een elke vyf dae) stopgesit word.

Die EFF en faksies in die ANC – waaronder u Jeugliga – dreig om hul ten gunste van plaasmoorde te konfronteer. U Jeugliga is gister op die voorblad van die Sunday Independent aangehaal dat hulle ’n oorlog teen boere wil begin, wat hulle vir die dood van Solomon Mahlangu en Chris Hani blameer. Ons moet nog u reaksie hierop hoor – of die reaksie van enige ander ANC-leier.

U vergelyk plaasmoorde met die moorde op Mogamad Cloete, Tawqeer Essop en André Bennett, drie jong mans wat in dieselfde week in Delft in die Wes-Kaap doodgeskiet is. Dit is ewe tragies, ja; maar dis waar die vergelyking eindig.

In Suid-Afrika is plaasaanvalle en veral plaasmoorde nie dieselfde as ander wegholstatistieke nie. Daar is drie aspekte in die besonder wat plaasmoorde van die res onderskei.

Eerstens: Niemand vra in die openbaar dat township- of bendemoorde gepleeg word nie. Daar is geen populistiese wekroep om stedelike moorde te pleeg nie. Daar is geen doelbewuste skep van ’n politieke klimaat wat dit aanmoedig nie, wat wel die geval met plaasmoorde is. Plaasmoorde het gevolg op die ANC, sy leiers en sy Jeugliga se gesing van “Umshini wam” (bring my masjiengeweer) en “Kill the farmer, kill the boer”, wat die EFF intussen oorgeërf het. Het u al die twiets en Facebook-plasings gesien van masjiengewere en pangas met verwysing na die verwagte botsing in Senekal?

Belangriker: Het u regering enigiets gedoen om dit te probeer verhoed? Nee – eerder die teenoorgestelde. Luister gerus weer na minister Bheki Cele se oorval op die toneel waar die Rafferty-paar twee weke gelede in Normandien vermoor is, toe hy gewaarsku het dat boere nie moet huil as hulle seerkry nie – dít in antwoord op ’n eenvoudige vraag wat boere te doen staan as vee in hul landery ingejaag word om hul oeste te vernietig.

Die bron van die wantroue waarna u verwys, is daar in u eie kabinet.

Tweedens: Inbrake en stedelike moorde word nie met dieselfde vlak van brutaliteit gepleeg nie. Kinders word nie gedwing om toe te kyk as hul ma’s verkrag word nie; hul oë word nie uitgesteek nie; hul oumas word nie vermink deur hul knieë met staalbore te deurboor nie. Op 4 Junie 2019 het AfriForum met skokkende syfers aangetoon dat niks in bykans die helfte van dié onmenslike gevalle van geweld gesteel word nie. Dis moord bloot vir die pret daarvan.

Derdens: Ná township-moorde volg geen oorverdowende applous nie, veral nie op sosiale media nie. Honderde Twitter-rekeninge, met of sonder skuilname, verwelkom elke melding van nóg ’n grusame marteling of moordtoneel, en moedig méér aan – sonder enige gevolge. Wetstoepassende instellings blyk geen voorneme, vermoë of wil te hê om enigiets daaraan te doen nie.

Nee, daar is geen wyse waarop u ons of die wêreld gaan oortuig dat plaasmoorde maar net uitvloeisels van ’n algemene etos van geweld of moord is wat ons land oorspoel nie.

Wat kan u daaromtrent doen?

U en die ANC moet die probleem eerstens erken. Indien nie, is geen oplossing moontlik nie. Dit is hoogs onwaarskynlik dat dit op sy eie gaan gebeur. Sosiale, politieke en veral buitelandse druk moet gebruik word om die ANC sover te kry om dit te doen.

Tweedens moet u tussenbeide tree. U moet dringende besprekings hou met meer as net daardie landboustrukture wat u lof besing of u standpunte oor plaasaanvalle ondersteun. U moet ook skakel met daardie netwerke en burgerregteorganisasies soos Saai, AfriForum, die Solidariteit Beweging en die Instituut vir Rasseverhoudinge, wat namens boere praat en hul standpunte, frustrasies en woede lug.

U moet die situasie nóú ontlont terwyl dit nog moontlik is. Doen dit voordat dit verder versleg.

Ek is daarvan oortuig dat u al goed besef dat die internasionale mening verander het. Meer buitelandse koerante en TV-stasies doen nou verslag oor plaasmoorde. Vele meer bevraagteken reeds u stelling by die VN se Algemene Vergadering in New York in 2018 dat boere nie vermoor word nie.

Wat nou noodsaaklik is, is aksie. ’n Spesialiseenheid moet in die lewe geroep word om voorkomende aksie deur middel van intelligensieskakeling te neem. Dit is onvergeeflik dat daar ná 15 jaar nog geen vordering gemaak is met die SAPD se onderneming om ’n reservistemag op die been te bring ná die afskaffing van die kommando’s nie.

’n Klein maar beduidende stap sou wees om op te hou om boere te ontwapen wat van die amnestieperiode vir die hernuwing van lisensies gebruik wil maak. Die meeste van hulle het die afsnydatum misgeloop weens swak dienslewering deur landelike polisiestasies. Dit laat boere kwesbaar in die ergste moontlike tyd en onder die ergste moontlike toestande ooit. Daar is geen logiese rede hiervoor nie. Só ’n besluit sal ten minste meer sensitiwiteit gee aan die stem van redelikheid en gevoel van begrip van u kant af – en u het dit nodig.

Ek wens gereeld dat u en u kollegas – veral die ministers in u veiligheidskluster – ’n plaasmoordtoneel kan besoek, selfs net een keer. U moet dit ruik en sien: die dierlike brutaliteit van die marteling; die bloed op die plafonne en mure. Slegs dán kan u met gesag en ondervinding oor hierdie onderwerp met die landbougemeenskap saampraat.