fbpx

Saai konfronteer polisie oor vuurwapens

Deur Dr. Theo de Jager

Die skokkende toestand waarin die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se vuurwapenadministrasie is, laat boere uiters kwesbaar. Dit ondermyn geregtigheid en ondermyn die staat se vermoë om sy mees basiese funksies te verrig. Saai beplan om regsaksies vanuit die landbousektor teen die SAPD te neem en elke moontlike ruimte in die Grondwet te ondersoek om die inploffing van die administrasie en uitvoering van die SAPD se funksies te stuit, om te keer en weer uit te bou.

In ’n brief aan minister Bheki Cele vra Saai vir duidelikheid oor sy beplanning en bestuur van die vuurwapenamnestieproses, die aansoekproses vir nuwe vuurwapens en die hernuwing van bestaande vuurwapenlisensies. Saai soek sy verbintenis tot uitkomste en gaan hom daarby hou.

Die ontstellende foto’s en videomateriaal van hope agterstallige aansoeke wat lede van die parlementêre portefeuljekomitee op wet en orde ná hulle besoek aan die sentrale vuurwapenregister op sosiale media die wêreld ingestuur het, skree teen elke beginsel en bedoeling van die Wet op Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000. Daar is geen verskoning vir die haglike toestand waarin die ANC eenvoudige polisiefunksies laat verval het nie.

Teen die agtergrond van eskalerende plaasaanvalle, sowel in getalle as in brutaliteit, is dit onverstaanbaar dat die ANC die ontwapening van boere van alle rasse en taalgroepe vir ’n onbepaalde tydperk deur haglike administratiewe rompslomp kan duld as daar nie ’n duidelike agenda daaragter lê nie. Hierdie agenda blyk baie duidelik uit die voorgestelde wysiging van die Vuurwapenbeheerwet waardeur wetsgehoorsame burgers van hulle reg ontneem sal word om hulself teen geweldenaars te verdedig.

Regsaksie teen die SAPD het ten doel om meer doeltreffende administrasie af te dwing. Familieboerderye in Suid-Afrika dra die addisionele las om huis en grond self te beveilig in van die gevaarlikste omstandighede ter wêreld waar daar oor die afgelope 25 jaar gemiddeld elke tweede dag ’n plaasaanval en elke vyfde dag ’n plaasmoord plaasvind. Boere kan nie bekostig dat hulle wapens, ammunisie en lisensie-aansoeke vir ’n onbepaalde tyd in swak bestuurde polisiekantore lê nie.

Buiten administratiewe geregtigheid sal Saai se regsaksie ook kragtens strafreg en siviele reg gevoer word. Gegewe die ineenstorting van die administratiewe deel van die proses is vuurwapeneienaars te meer bekommerd oor die veiligheid en toestand van al die vuurwapens wat ingehandig is. Saai voorsien ’n groot aantal siviele eise teen die SAPD vir vuurwapens wat in die proses wegraak, beskadig word, verkeerd terugbesorg word, of uit polisiestore gesteel word.

Die voorgenome regsaksies teen die SAPD sal ’n omvattende oefening wees wat in meer as een hof gevoer word. Saai nooi wapeneienaars wat bekommerd is oor hulle aansoeke vir amnestie, hernuwing of nuwe vuurwapens, of oor die vuurwapens wat hulle by ‘n polisiestasie moes inhandig, om hulle besonderhede in te vul by stillnogun.co.za.