fbpx

GESAMENTLIKE LANDBOUONTWIKKELINGSPROJEK STROOP EERSTE OES

Die stroop van die eerste mielie-oes van die gesamentlike landbouontwikkelingsprojek wat deur AfriForum, Pioneer, Saai, Agri All Africa (AaA), die Boiphitlhelelo Koöperatief en Purposely Ignited aangepak is, het vandag begin. Dít volg nadat die rolspelers in 2020 hande gevat het om die Noga’s Post-gemeenskap met dié ontwikkelingsprojek te ondersteun nadat die gemeenskap suksesvol mielies en groente tydens die vorige plantseisoen geproduseer het.

Die Boiphitlhelelo Koöperatief is in 2017 gevorm om voordeel te trek uit die een-huishouding-een-hektaar-program van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling. 36 gesinne het oorspronklik by die koöperatief aangesluit en onder leiding van Kgosatsana (Prinses) Gabo Moroka, tradisionele leier van Noga’s Post, daarin geslaag om naas die mielies wat deur die regering aangeplant is, ’n verdere 20 ha mielies en groente op eie inisiatief aan te plant tydens die 2019/2020-plantseisoen.

“Ons bedank eerstens die Here vir dié oes omdat dit deur Hom moontlik was om suksesvol te wees ten spyte van die uitdagings wat ons beleef het. Ek waardeer en gee graag erkenning aan al die rolspelers wat betrokke is. Dit was ’n gesamentlike poging. Ek glo dat ons van hier af van krag tot krag sal groei. Wat ek verseker weet is dat die visie van ontwikkeling en selfstandigheid wat ek vir die gemeenskap het, bereik sal word deur vennootskappe soos dié,” sê Kgosatsana Gabo Moroka, woordvoerder van die Boiphitlhelelo Koöperatief en tradisionele leier van die gemeenskap.

“Dit is vir Pioneer ’n voorreg om deel van die projek te wees. Die passie en toewyding van die gemeenskap is inspirerend. Ons is bly dat die saadskenking tot die oes kon bydra. Die gemeenskap het groot drome vir die toekoms en dit is baie vervullend om as mentor op te tree vir sulke passievolle mense,” sê Charles Matlou, kleinboerontwikkelingsbestuurder by Pioneer Seed RSA.

“Hier by Noga’s Post is daar families wat wil boer en dit is waarom ons saam met ons implementeringsvennoot Agri All Africa betrokke is. Saai is ’n familieboernetwerk wat bydra tot die ondersteuning van mense wat kommersiële boere wil wees sodat hulle tot volwaardige landbouers kan ontwikkel wat vir hulself welvaart skep en ook tot voedselsekerheid bydra,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Agri All Africa is verantwoordelik vir die operasionele bestuur van die projek en koördineer ook die ondersteuning wat deur plaaslike kommersiële boere gelewer word wat as mentors vir die gemeenskap optree, asook help met die verskaffing en aanwending van toerusting.

Dirk Hanekom, uitvoerende hoof van Agri All Africa, sê hy dink aan Psalm 65:9–13 as hy oor hierdie projek nadink: “U het die land besoek en oorvloed gegee; U verryk dit grootliks; die stroom van God is vol water. U berei hulle koring; ja, so berei U die land. U maak sy vore nat, sy kluite gelyk; deur reënbuie maak U dit week; U seën sy uitspruitsel. U kroon die jaar van u goedheid, en u voetspore drup van vettigheid. Die weivelde van die woestyn drup, en die heuwels gord hulleself met gejuig.”

“Verbeel jou hoe ’n klein oes in kommersiële terme soveel gemeenskappe kan inspireer. Agri All Africa is bevoorreg om deel te wees van só ’n wenspan,” sê Hanekom.

“Ons is baie dankbaar dat ons vandag met die stroop van die mielies kon begin. Ons het baie uitdagings beleef, maar met genade van Bo en die toewyding van die gemeenskap, plaaslike kommersiële boere en die projekvennote het ons elke uitdaging te bowe gekom. Dié projek bring hoop in ’n tyd wat dit baie nodig is en dien as ’n bewys van die sukses wat moontlik is as verskillende kultuurgemeenskappe en rolspelers uit die burgerlike samelewing en sakesektor op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek saamwerk,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking by AfriForum.

Gerda Kotzé van Purposely Ignited verleen bystand met die koördinering van die verskillende rolspelers, terwyl Mike Bosch van Boschveld Free Range Chickens hoenders aan die koöperatief geskenk het. Laeveld Agrochem het saadpakke geskenk vir die aanplant van groentetuine in die gemeenskapslede se erwe en steun ook die groter landbouprojek met ander middele. Die plaaslike Agrico-tak in Bloemfontein het tot die projek bygedra deur die ontwerp van die waterverspreiding- en besproeiingstelsel vir die beplande uitbreiding van die projek.

“Die gemeenskap en die projekvennote het toewyding gewys en sukses behaal. Ons nooi graag individue, organisasies en maatskappye wat deur dié projek geïnspireer word en wat graag betrokke sal wil raak om kontak te maak sodat die projek kan groei en hoop verwek kan word,” sluit Uys af.