fbpx

Verslapping van regulasies te min, te laat

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat inperkingsregulasies verslap word ten einde die ekonomiese skade wat die regering se oordrewe staat van inperking veroorsaak het, te beperk, is vir baie boere, landboubedrywe en waardekettings te min en te laat, meen dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Vir die wildbedryf, wat reeds deur die afwesigheid van buitelandse trofeejagters vermink is, was die onverklaarbare verbod op interprovinsiale reise vir plaaslike jagters (te midde van ’n bedeling waar taxipassasiers op dieselfde roetes vervoer mag word) ’n nekslag. Die tradisionele jagseisoen is amper verby en honderde wildplase is in ’n finansiële krisis gedompel met duisende werkverliese stroomop en stroomaf in die waardeketting.

Soortgelyke werkverliese het reeds ’n maatskaplike krisis tot gevolg in die wynbedryf, waar die verlies aan besigheid nie net tot die 2020-produksiejaar beperk is nie. Oorvol kelders het nie bergingskapasiteit in tenks en vate nie en het produsente reeds in kennis gestel dat hulle nie 2021-kwotas kan toeken nie. “’n Plaas kan nie vir ’n jaar gesluit word nie en baie min familieboere kan twee agtereenvolgende jare se verlies aan inkomste of omset oorleef,” sê De Jager.

Die tabakboere en hulle werkers wat deur 20 weke se sigaretverbod tot kontantvloeikrisisse gedoem is, is ontsteld oor die opsigtelik gebrekkige navorsing en data waarop die besluit om rook te verbied, gegrond was. Die argumente en inligting wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma in Saai, BATSA en ander se hofaansoeke gebruik het om die verbod op die verkoop van sigarette te regverdig, is ver van die werklikheid van ’n afgetakelde waardeketting waarin miljarde se staatsinkomste verlore gaan en ondernemings, boerderye en werkgeleenthede nie kan oorleef nie.

“Om nou te vra vir die skep van nuwe werkgeleenthede terwyl geraakte boere en landelike sakeondernemings sukkel om bestaande mannekrag te behou, veral ná noodkrete wat sedert Mei 2020 tot die regering gerig is om die doodgewurgde ondernemings asem te gee, val vreemd op die oor. Die plattelandse sakesektor se vertroue in die regering is dermate deur die onvoorspelbaarheid, onverskilligheid en irrasionaliteit van die regering geskend dat dit lank sal vat vir beleggings om weer nuwe werkgeleenthede te rugsteun.”

Die aankondigings kom nie as ’n verrassing nie gegewe die druk van die hofaansoeke in die tabak-, jag- en wynbedryf wat Saai aanhangig gemaak het en die swak argumente en datastelle waarop die regering sy verdediging gebaseer het.