fbpx

Toeganklikheid tot CADS-fonds ’n kopseer vir kleinskaalboere

Hoewel die regering se hulppakket van R1,2 miljard aan kleinskaalboere wyd verwelkom word, sukkel potensiële begunstigdes met die aansoekproses. Dít verhoog die vermoede dat die geld in die COVID-19-landbourampondersteuningsfonds (CADS-fonds) aan ’n klein aantal mense met politieke kennisse wat toegang tot senior amptenare in die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het, toegeken gaan word eerder as wat dit ’n breë bemagtigingsmeganisme is wat kleinskaalboere gaan help wat steeds tydens die uitdagende maatreëls van die staat van inperking aanhou produseer.

Saai, ’n netwerk vir familieboere wat spesialiseer in digitale oplossings vir landbou-ontwikkeling, het talle klagtes van kleinskaalboere regoor die land ontvang wat glo die stelsel is daarop gerig om hulle van die hulp te weerhou.

Baie van die boere het nie toegang tot drukkers om ’n harde kopie van die voorgeskrewe vorms te verkry nie en diensverskaffers in landelike gebiede is tydens die staat van inperking gesluit. Diegene wat wel ’n plan gemaak het om die vorms uit te druk en te voltooi, kan egter nie die aansoek indien nie omdat die Departement se kantore te ver geleë of gesluit is. Polisiebeamptes by padblokkades is verder nie ingelig dat kleinskaalboere hierdie vorms self by die Departement se kantore moet indien nie en beskou dit ook nie as ’n noodsaaklike diens nie.

Saai het op versoek van die organisasie se lede ’n digitale vorm ontwerp met al die noodsaaklike vereistes wat die Departement benodig om die aansoekproses te verwerk, na te gaan en te moniteer. Saai het dit ook aan sowel nasionale as provinsiale beamptes voorgelê. Niemand kan egter ’n besluit oor die gebruik van dié digitale vorm maak nie en met die dreigende spertyd op 22 April 2020 blyk daar geen dringendheid daaroor te wees nie.

“Hulle wil nie regtig hê ons moet aansoek doen nie omdat hulle reeds ander planne met die geld het,” sê ’n begunstigde van die grondherverdelingsprogram in Hoedspruit. “Die geld in landbou gaan selde aan die boere op grondvlak. Sommige van ons wag al sedert 2012 vir ons navestigingstoelae.”

Saai is tans ook besig om regsopsies te ondersoek om kleinskaalboere by te staan sodat die Departement die beduidende struikelblokke om hulp van die pakket te kry, in ag neem.