fbpx

Saai wen saak vir voëlboere

Saai, ’n organisasie wat na die belange van familieboere omsien, het vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria sukses behaal met ’n dringende hofaansoek om die uitvoer van voëls na buitelandse markte toe te laat.

“Saai het hierdie aansoek ingedien en hoewel vlak 4-regulasies die uitvoer van alle landbougoedere ingevolge artikel 22(1)(e) toelaat, versuim die betrokke owerhede egter om die nodige permitte en vereiste sertifikate uit te reik om voëlboere toe te laat om hul voëls uit te voer,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Saai het hierdie verklarende bevel suksesvol bekom namens Schalk van Wyk, wat in die Nigel-omgewing met papegaaie boer.

“Ons hoop hierdie bevel baan die weg vir alle voëlboere en landbou-uitvoerders om hul bedrywighede ongehinderd voort te sit,” voeg Rossouw by.

Hierdie bevel is ook belangrik selfs al nader die land vlak 3-regulasies, wat meer industrieë en regeringsfunksies toelaat om te begin werk, aangesien die regering gewaarsku het dat sekere gebiede na vlak 4 kan terugskuif indien nodig. Die bevel sal hierdie boere dan teen arbitrêre riglyne, wat hul bedryfsvermoë belemmer, beskerm.