fbpx

Saai versoek duidelikheid oor aansoeke vir CADS-fonds

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het op 6 April 2020 ’n beroep vir aansoeke gedoen met betrekking tot ’n COVID-19-landbourampondersteuningsfonds (CADS-fonds). Die Departement het genoem dat R1,2 miljard beskikbaar gestel word om kleinskaal- en gemeenskapsboere wat finansiële nood ervaar, te ondersteun. Die aansoeke het op 8 April 2020 geopen en op 22 April 2020 gesluit.

Op 17 Mei 2020 het Minister Thoko Didiza die uitslag van die aansoekproses rondom die CADS-fonds aangekondig. Sy het gesê dat 15 036 aansoeke ter waarde van net meer as R500 miljoen goedgekeur is. Sy het verder gesê dat alle aansoeke in die week van 17 Mei 2020 gefinaliseer sal word en dat die uitreiking van kwitansies na provinsies op 18 Mei 2020 sal begin.

Sedert die datum van die uitreiking van die mediaverklaring is Saai deur verskeie familieboere ingelig dat hulle bevestiging van ontvangs gekry het, maar dat hulle aansoeke afgekeur is sonder dat enige redes verskaf is, terwyl ander laat weet het dat hulle geen terugvoer van die Departement ontvang het rakende die goedkeuring/afkeuring van hulle aansoeke nie (ten spyte daarvan dat prosesse rondom die beroep vir aansoeke reeds gefinaliseer is).

“Saai se lede wat aansoek gedoen het sluit in boere van die Proaktiewe Grondverkrygingstrategie (PLAS), gestremde boere, gemeenskapsboere en kleinskaalboere van alle ouderdomme, rasse en geslagte, en almal is afgekeur,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

In die lig van bogenoemde het Saai sy regspan opdrag gegee om die Departement te versoek om skriftelike bevestiging te verskaf of alle prosesse inderdaad gefinaliseer is en, as dit nie die geval is nie, te bevestig teen wanneer sulke prosesse gefinaliseer sal wees. Saai het die Departement ook versoek om alle applikante in te lig of hulle aansoeke aanvaar is of nie en, indien hulle aansoeke afgekeur is, bevredigende redes aan dié onsuksesvolle applikante te verskaf.

“Indien die Departement versuim om aan bogenoemde versoeke gehoor te gee, sal Saai voortgaan met verdere aksie om te verseker dat bevredigende redes aan alle applikante verskaf word,” voeg Rossouw by.