fbpx

Saai verskaf platform vir reisdokumente tydens COVID-19-inperking

Saai, die organisasie vir familieboere, het ’n webgebaseerde platform vir familieboere en hulle werkers geskep waar noodsaaklike reisdokumente wat tydens die verpligte 21 dae lange COVID-19-inperking benodig word, opgelaai kan word.

Landbou- en voedselvoorsieningverwante operasies, insluitend boerdery-, veeartsenykundige en plantegesondheiddiensverskaffers, plaagbeheerdienste, en chemiese en kunsmisverskaffers is geklassifiseer as noodsaaklike dienste vir volgehoue besigheid wat die gesondheid en veiligheid van Suid-Afrikaners ondersteun. Tydens hierdie tydperk gaan familieboere en hulle werknemers na en van plase moet reis om in staat te wees om hulle onderskeie funksies en take te verrig.

“Ons webgebaseerde platform laat enige persoon wat as noodsaaklike dienste vir volgehoue besigheid in die landbousektor geklassifiseer word toe om noodsaaklike dokumente op te laai ten einde te bewys dat hulle reise wel wettig is binne die staat van inperking. Die stelsel stuur dan ’n e-pos aan deelnemers wat ’n PDF-dokument met al hulle inligting bevat. Saai sal ook ’n kaartjie aan intekenaars WhatsApp met ’n QR-kode wat al die nodige inligting sal bevat,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai. QR-tegnologie is vrylik beskikbaar en kan by enige toepwinkel afgelaai word.

Saai voorsien ’n mate van frustrasie by padblokkades, veral tydens die vroeë stadium van die inperking. Gegewe die uitdagings om met owerhede op alle vlakke te kommunikeer, hoop Saai om ’n bydrae te lewer tot die ongehinderde voortsetting van die voedselketting deur die skep van hierdie digitale hulpmiddel, tesame met die samevoeging van pogings om ’n oplossing voor te stel en met die owerhede in gesprek te tree.

Hierdie diens is gratis en beskikbaar vir alle familieboere.
Toegang daartoe kan hier verkry word: https://bit.ly/COVID_Travel_Docs