Saai veroordeel Minister Cele se uitspraak

Elke boer in Suid-Afrika – groot en klein, arm en ryk, swart en wit, en ongeag politieke affiliasie – wil weet: Hoe moet ons boer as kommunale beeste elke nag in ons lande ingejaag word en ons oeste vernietig? Hoe moet landbou gedy as daar geen respek vir eiendoms- of verblyfreg is nie? Die tirade van Bheki Cele, Minister van Polisie, voor boere in Normandien – nadat die vraag baie beleefd aan hom gestel is – ontbloot die kern van die probleem en die ANC se rol daarin.

Die Minister het ná sy emosionele uitbarsting nooit die vraag beantwoord nie. Boere hoop egter dat elke opposisieparty in die parlement dié vraag sal bly vra.

Plaasbetreders het op 18 Augustus ’n suksesvolle swart boer in Tzaneen se plaas afgebrand, drade geknip en gesteel, en boonop die afgelope naweek sy besproeiingsdam se krane afgeslaan. Die plaasbetreders treiter dié boer al vir jare en die SAPD weier om ’n saak te open.

In Noordwes kom plaasaktiwiteite in die Hartbeesfontein-omgewing tot stilstand omdat die SAPD versuim om vakbondaangehitsde plakkers van kommersiële plase te verwyder. Die regskostes wat boere moet aangaan om die wet toegepas te kry, beloop reeds meer as die waarde van hul plase.

AfriForum het in Junie toegetree om 500 grondgrypers van klein plase van swart, wit, bruin en Indiër eienaars in Elandsfontein, suid van Johannesburg, te verwyder toe die SAPD nie ’n hofbevel wou toepas nie.

Minister Cele se uitbarsting skep verdere beleidsonsekerheid en skeptisisme onder sowel plaaslike grondeienaars as wêreldwyd onder handelsvennote en beleggers, wat vrees dat ad hoc-grondbesettings eerder as grondwetwysigings – soos wat in Zimbabwe gebeur het – die sneller tot ekonomiese inploffing sal wees.

Minister Cele se besoek aan Normandien volg op die moord op die Rafferty-egpaar, wat internasionaal opslae gemaak het. Sedert President Cyril Ramaphosa se ontkenning in 2018 by die VN se Algemene Raadsvergadering in New York – naamlik dat plaasmoorde in Suid Afrika ’n probleem is – het internasionale belangstelling in plaasaanvalle skerp toegeneem. Saai neem byna weekliks aan digitale konferensies oor dié tema deel. Videomateriaal soos dié van Minister Cele se optrede in Normandien kom handig te pas om aan te toon hoe die ANC-regering ’n klimaat skep waarin plaasaanvalle gedy en waarom buitelandse druk nodig is om die VN se Universele Verklaring van Menseregte in Suid-Afrika af te dwing.

Saai se familieboereresolusie, wat verlede jaar in Rome binne die konteks van die VN se Dekade van Familieboere geloods is, beklemtoon die krisis wat onteiening sonder vergoeding en plaasaanvalle in die Suider-Afrikaanse landbou-omgewing veroorsaak. Dié resolusie geniet wye aanhang sowel plaaslik as in die buiteland. Minister Cele se uitbarsting plaas die ANC sentraal in die aanhitsing van die knellendste probleme wat familieboerderye in die gesig staar. Die respek wat Minister Cele al gillende opeis, soos vertroue, word ongelukkig nie verdien nie – en beslis nie afgedwing nie.