fbpx

Saai verkry dringende regsmening oor voortgesette wynproduksie

Die regering se inperkings op ondernemings weens die Covid-19-pandemie het familieboere in die wynbedryf met groot onsekerheid gelaat. Daar is wyd gespekuleer dat dit dalk onmoontlik sou wees om druiwe-oeste in te win en in kelders te verwerk. ’n Hele seisoen se opbrengs sou potensieel verlore kon gaan.

Saai het sy regspan in dié verband opdrag gegee om ’n dringende regsmening te lewer aangaande die vraag of wynboere met produksie kan voortgaan. Saai was gereed om die hof dringend te nader, sou dit  nodig wees.

“Danksy Saai en ander rolspelers in die landboubedryf se volgehoue druk op die regering en ons spoedige optrede, blyk dit nou dat die wynboere wel met die nodige stappe kan voortgaan om oeste te versamel en bewaar,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Uit die regsmening wat ingewin is blyk dit dat die optrede van wynboere nie onwettig sou wees nie en meer duidelikheid is in die Staatskoerant van 26 Maart 2020 gegee.

Saai moedig boere aan om hulle dringend te kontak indien hul boerderypraktyke ontwrig word weens die huidige krisis, deur 066 071 6094 te skakel. Saai gaan ook steeds voort met die prosessering van die aanlyn permitaansoeke vir die landboubedryf en alle boere word aangemoedig om van dié platform gebruik te maak. Besoek www.saai.org vir meer inligting oor die aansoekproses.