fbpx

Saai tree toe as belanghebbende teen NKW-steenkoolmyn

Na aanleiding van Manzolwandle Investments se aansoek om steenkool in ’n omgewing van ongeveer 18 000 hektaar naby Komatipoort en die Nasionale Krugerwildtuin te myn, het die landboubelangenetwerk Saai – verteenwoordiger van familieboerderye – as belanghebbende toegetree om dié ontwikkeling teen te staan.

Die teikengebied bestaan tans hoofsaaklik uit besproeiingslandbou in uitvoerbedrywe. Hoë-intensiteit boerderye, wat ’n groot hoeveelheid werkers in diens hou, is veel meer volhoubaar as die beoogde myn.

“Aanvanklike berekeninge dui daarop dat ’n eenmalige opbrengs teen ’n stroopverhouding soortgelyk aan ander antrasietmyne in die Vryheid-formasie noord van Swaziland nie lewensvatbaar sal wees nie. Boonop sal die grond vir eeue daarna bar en dood gelaat word. Dié eenmalige opbrengs, asook die skade aan die watertafel, ekologie en toerisme, moet opgeweeg word teen die huidige landboubedrywighede in die gebied, wat vir ’n onbepaalde tydperk ’n groeiende inkomste van meer as R100 000 per hektaar per jaar ná uitgawes kan oplewer,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Daarbenewens het die departemente van omgewingsake en van mynbou ’n swak rekord wat betref die toepassing van rehabilitasiereëls, wat duidelik merkbaar is by sukkelende oopgroefsteenkoolmyne elders in Mpumalanga. Daar is ook geen aanduiding dat dié departemente hul vermoë tot wetstoepassing en suksesvolle rehabilitasiebestuur in die toekoms gaan verbeter nie.

Volgens ’n onafhanklike mynboukonsultant en Saai-netwerkvennoot is slikdamme, afvoerdamme en watersuiweringsaanlegte noodsaaklik om antrasiet te ontgin en as lewensvatbare produk te verkoop. Die hoeveelheid water wat dié prosesse vereis, sal aangrensende plase se watertafels drasties verlaag en besproeiingsboere so ver as 300 km rivierlangs benadeel. Boonop sal die stof wat oopgroefmynbou genereer bevrugting van gewasse in die gebied nadelig beïnvloed.

Steenkoolmyne in die Mpumalanga Hoëveld het oor die afgelope twee dekades ’n verdoemende uitwerking op landbouproduksie gehad. Suurreën, steenkoolstof, honderde vragmotors wat paaie verpletter, ’n toename in veediefstal, lug- en waterbesoedeling, en geraas is maar enkele implikasies wat onbeheerste newe-effekte van mynbouaktiwiteite op nabygeleë landbouproduksie het.

Saai het sy aansoek om as belanghebbende te registreer op 25 Junie 2019 ingedien. Die beoogde mynbouontwikkeling beïnvloed meer as net landboubedrywighede in die gebied en Saai sal graag saam met ander belangegroepe die aansoek van Manzolwandle Investments teenstaan.