fbpx

Reisvereistes vir familieboere tydens vlak 4-inperking

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, het op 29 April 2020 die aangepaste regulasies aangekondig oor vlak 4-inperking wat op 1 Mei 2020 in werking tree om COVID-19 te help bestry.

Artikel 16 van die gewysigde regulasies (GG No. 43258) bepaal (eie vertaling):

  1. Elke persoon word tot sy of haar woonplek beperk.
  2. ’n Persoon mag slegs hul woonplek verlaat indien hulle –
    a) ’n noodsaaklike of toegelate diens verrig, soos toegelaat vir vlak 4;
    b) werk toe gaan, waarvoor ’n permit wat ooreenstem met Vorm 2 Bylae A uitgereik is;
    c) toelaatbare goedere wil koop;
    d) toelaatbare dienste wil verkry soos uiteengesit in Tabel 1 van die regulasies …

Artikel 28 (4) vereis ook dat persone wat noodsaaklike dienste of toegelate dienste lewer na behore aangewys moet word deur die hoof van ’n instelling of ’n persoon wat deur daardie hoof aangewys is, en skriftelik op ’n vorm wat ooreenstem met Vorm 2 in Bylae A.

Die kleinhandel- en diensbedrywighede wat tydens vlak 4-inperking toegelaat word, sluit alle landbou-, jag-, bosbou-, hengel- en verwante bedrywighede in, insluitend die uitvoer van landbouprodukte.

Hoewel dié landboudienste toegelaat word, word ’n permit steeds vereis om te reis en ’n noodsaaklike diens te verrig. Dié reispermit, soos vermeld in artikel 16(2)(b) en 28(4), is ’n vorm wat met Vorm 2 Aanhangsel A ooreenstem en dus dieselfde minimum inligting bevat as wat in Vorm 2 Aanhangsel A gemeld word. Dit moet deur die hoof van ’n instelling onderteken word, wat die hoof uitvoerende beampte of die ekwivalent van ’n hoof uitvoerende beampte van ’n private instelling moet wees.

Daar is ook baie frustrasie oor sommige padblokkades wat verkeerdelik van boere vereis om ’n CIPC-sertifikaat te lewer om met hul reis voort te gaan.

Ebrahim Patel, Minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, het op 16 April 2020 aangekondig dat ondernemings wat geregistreer is by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) om noodsaaklike dienste tydens die staat van inperking te verrig ’n sertifikaat van die CIPC se BizPortal benodig om met hul noodsaaklike dienste voort te gaan.

Dit blyk dat die nuwe regulasies vereis dat ondernemings wat noodsaaklike dienste verrig steeds vir ’n CIPC-sertifikaat moet registreer. Artikel 2(3) van die gewysigde regulasies bepaal – ondanks die herroeping van die vorige regulasies – dat alle aankondigings ingevolge die regulasies van toepassing bly, tensy die kabinetslid wat vir dié aanwysings verantwoordelik is, dit wysig of onttrek.

Hierdie vereiste is egter nie van toepassing op boere nie, aangesien die Minister in dieselfde aankondiging gesê het dat ander noodsaaklike diensverskaffers – byvoorbeeld gesondheidsorgpersoneel wat geregistreer is by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, eenmansake wat noodsaaklike goedere en dienste lewer (soos kleinsake-eienaars en spaza-winkels) en kleinboere – nie op die BizPortal hoef te registreer nie. Dié ondernemings benodig nie ’n CIPC-sertifikaat nie, maar moet steeds aan die bepalings van die inperkingsregulasies voldoen.

Familieboere kan by https://bit.ly/SaaiTravelpermitvir ’n reispermit aansoek doen of Saai by 066 071 6094 kontak met enige navrae.