fbpx

Noord-Kaap-onteieninglys is desperate verkiesingstaktiek

Saai is geskok oor die blatante vergrype deur die ANC in die Noord-Kaap, wat ’n lys van 30 plase bekend gemaak het om vir onteiening sonder vergoeding te teiken. Dít herinner ongemaklik baie aan die Zimbabwiese grondgrype sedert 2000 – polities gekonnekteerde kaders identifiseer enige plase na hulle smaak, waarna ervare en internasionaal mededingende grondeienaars en produsente sonder vergoeding van hulle plase afgeboender is.

Die ANC praat reeds sedert Desember 2017 met ’n gesplete tong oor onteiening. Terwyl president Ramaphosa in New York en Davos aan die internasionale beleggersgemeenskap die versekering gee dat eiendomsreg hier veilig is, was daar nog nooit ’n verduideliking hoe minister Maite Mashabane van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming die Akkerland-plaas in Limpopo onregmatig teen ’n kwart van markwaarde onteien het nie.

’n Vennootskap tussen AfriForum, Limpopo Landbou, Solidariteit en TLU-SA het dié onteiening suksesvol omgekeer – tot groot verleentheid vir die staat – en kostebevele teen die minister, die grondeisekommissaris en die registrateur van aktes laat instel.

Die ANC in die Noord-Kaap se uitreiking van ’n lys van 30 plase wat vir onteiening sonder vergoeding geoormerk is, plaas ’n reusevraagteken oor die integriteit van die ANC se leierskap, asook die party se interne bevelstruktuur. Dié omstrede lys, tesame met ANC Noord-Kaap se verklaring daaroor, is ook met ambassades bespreek – verskeie van Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote het reeds hulle kommer uitgespreek oor die ANC se vertrapping van die eiendomsklousule (art. 17) van die VN se Verklaring van Menseregte.

Hierdie optrede plaas verdere druk op die President se kantoor, en sy adviesraad oor grondhervorming, om in die reine te kom met die morele vraagstukke oor grondhervorming, en te verduidelik hoe dit billik of regverdig is om van ’n individuele grondeienaar te verwag om die rekening vir ’n nasionale verantwoordelikheid te betaal.

Saai is juis gestig om alle organisasies en partye wat boere in só ’n situasie kan bystaan, in ’n netwerk saam te snoer. Saai nooi landbou-unies, sakestrukture, burgerlike organisasies en partye wat oor ’n breë front ’n bydrae kan lewer om ongeregtigheid te stuit, om saam te werk.

Saai sal geen steen onaangeroer laat om die betrokke grondeienaars by te staan nie, en hoop om ander landboustrukture ook te betrek.