fbpx

Maak die emmer reg!

 Of jy een liter water in ’n emmer vol gate gooi of ’n duisend liter, die uitkoms is dieselfde: daar sal niks oorbly nie.

Die kern van Tito Mboweni, Minister van Finansies, se interimbegrotingsrede is dat daar nie meer genoeg water is om in die emmer te gooi nie, hoofsaaklik omdat ons nou al te veel geld geleen het. Dit maak egter nie saak hoeveel daar is nie, want sonder om die beleidsomgewing te verander (om die emmer reg te maak), is Suid-Afrika op pad na ekonomiese ineenstorting.

Presies dieselfde het in Zimbabwe gebeur.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is bankrot gesteel en amper twee jaar ná die aanvang van die Zondo-kommissie wat verdoemende getienis oor staatskaping en plundery aangehoor het, het niemand nog daarvoor tronk toe gegaan nie. Solank die demoon van bedrog en plundery in die staatsdiens los is, maak dit nie saak hoe groot die begroting is nie.

Staatsinmenging in die ekonomie onder die dekmantel van BBBEE, kaderontplooiing en ander rasgebaseerde skemas soos die COVID-19-ramphulpprogramme het verreikende gevolge gehad, en daar is geen potensiaal om die ekonomie reg te ruk of te laat groei nie, ongeag hoeveel daarvoor begroot of uit die privaatsektor afgepers word.

Die R3 miljard-reddingsboei wat na die Landbank uitgegooi is, is noodsaaklik want Suid-Afrika het die Landbank nog nooit so nodig gehad soos nou nie. Anders as kommersiële banke het die Landbank nie kliënte in die toerisme-, vervaardiging-, kleinhandel-, mynbou- of vervoerbedryf nie, en omdat die bank net op die landbousektor fokus, is dit in geheel van grond as sekuriteit afhanklik. Onteiening sonder vergoeding vreet die bank se kollateraal weg. Mboweni is in die kol as hy sê dit is noodsaaklik om nou werkgeleenthede te skep, en veral in die platteland waar dit die nodigste is. Dit verg egter belegging en finansiering wat van beleidsekerheid afhanklik is. Niemand met gesonde verstand belê in grondgebaseerde ondernemings terwyl die swaard van onteiening sonder vergoeding oor hul kop hang nie. Die beleidsomgewing is te onseker daarvoor.

Die landbou kan meer volhoubare werkgeleenthede oor ’n breër gebied en in ’n korter tyd skep as enige ander sektor van die ekonomie. Dit gebeur egter nie omdat die arbeidswetgewing en -administrasie te verstikkend daarvoor is nie. ’n Boer wil nie nog werkers in diens neem, om later uit te vind dat hulle nie by sy besigheid-etos inpas nie – omdat arbeidswetgewing dit baie moeilik maak om van sulke werkers ontslae te raak. Selfs al kan die werker deur ’n omslagtige en duur proses ontslaan word, is dit bitter moeilik om onder verblyfregwetgewing so ’n werker van ’n plaas af te kry. Die beleid moet eers verander.

Ten spyte van ’n vyandige sake-omgewing is boere in Suid-Afrika steeds uiters mededingend in wêreldmarkte, en het hulle onder die moeilikste omstandighede tydens die COVID-19-inperking Suid-Afrika se voedselsekerheidstatus in stand gehou, en groot surplusse geproduseer en uitgevoer. Vir kommersiële boere, wat kos aan die meerderheid van die verstedelikte bevolking voorsien, was daar geen ramphulp nie – nie vir die grendelstaat nie, nie vir die droogte nie en ook nie vir die weghol-diefstalsyfers nie. As landbou se potensiaal in ’n meer vriendelike beleidsomgewing losgelaat word, kan dit die soort welvaart skep wat honger en armoede kan uitwis, werksgeleenthede skep, valuta verdien en die staatskas kan aanvul, maar die emmer moet eers reggemaak word.