fbpx

Landbou bied die beste hoop vir ekonomiese groei in Suid-Afrika

Die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) verwelkom die nasionale tesourie se besprekingsdokument oor ekonomiese beleid wat op 27 Augustus 2019 uitgereik is.

Dié dokument van 62 bladsye fokus op vyf temas wat swak ekonomiese groei en toenemende werkloosheid oor die lang termyn sal hokslaan. ’n Groot deel van die dokument fokus op die landbou- en dienstebedrywe aangesien hierdie sektore in die beste posisie is om arbeidintensiewe groei te bewerkstellig. Verbeterde toegang tot finansiering, bekostigbare landbouversekering, landboutegniese adviesdienste vir ontwikkelende boere en toegang tot markte is sommige van die prioriteite wat genoem is om ’n vriendeliker omgewing, waarin landbou kan gedy, te skep.

Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê die rigting en inhoud van die besprekingsdokument verteenwoordig ’n vars bries uit owerheidsgeledere, en hy hoop dat dit wyer as net die tesourie byval sal vind. Die olifant in die kamer, wat nie deur die dokument in ag geneem word nie, is die demper wat SEB-vereistes en grootskaalse bedrog op beleggingsaptyt plaas. In dié verband staan die besprekingsdokument in skrille kontras met die dreigemente van Thulas Nxesi, minister van arbeid, om meer drakoniese rassekwotas aan maatskappye op te dwing.

Saai is veral opgewonde oor Tito Mboweni, minister van finansies, se voorstelle oor ’n moontlike gesubsidieerde versekeringskema vir landbou, omdat dit toegang tot finansiering sal bevorder, risikobestuur sal verbreed en ’n unieke geleentheid sal skep om produksiedata te oes.

“Dit is ook treffend dat die verslag die belangrike rol van eiendomsreg en die besit van bates onderskryf. Ná die onlangse Graham-uitspraak oor die uitbreiding van die Wet op die Opgradering van Grondbesitregte sal ons graag wil sien dat begunstigdes van grondhervorming en die LRAD-program titelaktes ontvang vir hul grond,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Saai glo as die voorstelle in die besprekingsdokument realiseer, dit die mededingendheid van Suid-Afrikaanse landbou met rasse skrede sal laat styg.

Saai het op uitnodiging van Mboweni onderneem om voor 15 September 2019 kommentaar te lewer op die voorgestelde landboustrategie wat in die dokument vervat is.