fbpx

Jagbedryf kan honger help verlig tydens COVID-19-tydperk

Die EMS-stigting se onlangse beroep op regeringsdepartemente om die slag en eet van wildvleis in Suid-Afrika en die uitvoer daarvan in die lig van die COVID-19-pandemie te verbied, is opportunisties en onverantwoordelik in ’n tyd waar die wild- en jagbedryf ’n reuserol kan speel om die honger in kwesbare gemeenskappe te verlig.

Dié versoek aan die Departemente van Gesondheid, van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en van Omgewingsake, Bosbou en Vissery kom slegs ’n week nadat dieselfde mosie deur die European United Left/Nordic Green Left group in die Europese Parlement ter tafel gelê is. Die mosie wat gemik het om die handel en verbruik van wildvleis te verban is verslaan met 449 stemme daarteen teenoor 186 daarvoor. “Die uitslag van die stemming stuur ’n duidelike boodskap aan diereregte-groepe, wat die COVID-19-pandemie misbruik deur alle middele te benut om jag- en ander aktiwiteite wat volhoubaar is in Europa te beperk” het die Europese Federasie vir Jag en Bewaring (FACE) in ’n mediaverklaring ná afloop van die stemming gesê.

“Ons voer al baie jare wildvleis na die buiteland uit sonder enige voorvalle wat verband hou met soölogiese siektes. Om die wildbedryf in Suid-Afrika te vergelyk met die markte en omstandighede waar COVID-19 uitgebreek het, is waansin,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“In die Chinese markte is daar nabye kontak tussen diere terwyl wild in Suid-Afrika vrylopend is. In Suid-Afrika eet ons nie eksotiese spesies nie, ons abattoirs is hoogs gereguleer en die inspeksie van vleis voldoen aan streng standaarde.”

Die wildbedryf maak ’n wesenlike bydrae tot Suid-Afrika se ekonomie deur middel van werkskepping en toerisme. Voorts benut die wildbedryf van Suid-Afrika se mees marginale grond om beide buitelandse valuta te verdien en van die mees gesonde, eko- en klimaatvriendelike organiese rooivleis te produseer. Biodiversiteit word ook bevorder deur spesies te bewaar wat daarsonder lankal sou uitsterf.

“Saai wil die regering aanmoedig om die jagbedryf as ’n noodsaaklike industrie te prioritiseer aangesien dit ’n reusebydrae kan maak om honger te help verlig in die tyd waar enige bydrae ’n groot verskil op grondvlak kan maak. Helpende Hand se Helpjag-projek is ’n uitstekende voorbeeld hiervan. Jagters het sedert 2018 ongeveer 30 000 kg vleis geskenk aan dié inisiatief, wat 8 000 behoeftige kleuters van gebalanseerde maaltye voorsien.”

Saai werk tans saam met ander organisasies in die bedryf om die verantwoordelike heropening van die jagbedryf te bewerkstellig