fbpx

Dringende hulp benodig ná Hertzogville-brande

Die harte van Saai en sy lede van oor die hele Suid-Afrika heen gaan uit na die boere in die Hertzogville-omgewing wat vee, weiding, lyndrade en ander infrastruktuur, inkomste of bates in die vernietigende brande in die omgewing tussen Christina, Hoopstad, Dealsville en Bultfontein verloor het.

Hoewel die verliese moet nog bepaal moet word, neem die skade al rampafmetings aan. Etlike honderde beeste, skape en wild het doodgebrand of is só vermink dat hulle van kant gemaak moet word.

Saai hoop en druk vir ramphulp van die staat, maar die regering het ’n jammerlike resente baanrekord van diskriminasie, bedrog en nepotisme wat ramphulpverlening betref. Saai sal met soveel moontlik netwerkvennote saamspan om boer-tot-boer-hulp te organiseer en families te ondersteun sodat hulle op hul plase kan bly.

Daar is ontstellende bewerings dat dié brand weens betogings oor dienslewering en brandende buitebande op die R708-pad tussen Hertzogville en Christiana ontstaan het. Die SAPD staar ’n groot uitdaging in die gesig om in die lig van die Senekal-vervolgings en ‑aanklagte ook ter wille van vertroue en legitimiteit ewehandig in die ondersoeke en vervolgings in Hertzogville op te tree. As die regsproses nie gesien word om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid af te dwing nie, word die integriteit en stabiliteit van die hele staatsbestel ondermyn.

Boere van elders in die land wat met voer of ander hulpmiddele kan help, of simpatiseerders wat bydraes vir die vervoer na die rampgebied kan maak, kan Saai by 066 071 6094 kontak.

Hulpverlening sal in samewerking met alle belangstellende en gewillige organisasies op ’n niediskriminerende en ’n oopboekgrondslag aan geaffekteerde boere gaan, ongeag hul affiliasie, lidmaatskap, ras, politieke voorkeure, kerk of taalgroep. Enigeen wat bewus is van knellende nood in dié gebied kan dit onder Saai se aandag bring.