fbpx

Die familieboerlandbounetwerk Saai vandag geloods

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) is vandag in Pretoria geloods. Saai is ’n landboubelangenetwerk vir boere deur boere, wat daartoe verbind is om die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere in die primêre produksiesektor te beskerm en bevorder.

“Saai is gestig om bykomend tot beleidsbeïnvloeding ook ’n aktiewe rol te speel in saakgerigte aksies en strategiese oplossings vir onmiddellike landbouprobleme. Die organisasie is nie polities verbonde nie en sal sigself beywer om met bestaande landbou-unies met uiteenlopende politieke sentimente saam te werk waar dit in die belang van familieboerderye is,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Dr. Theo de Jager is as voorsitter van Saai se direksie aangewys. Lidmaatskap is oop vir alle landbouprodusente, ongeag die grootte van die landbou-onderneming, taal, ouderdom, herkoms of geslag.

“Saai gaan as ’n nasionale eenheidstruktuur bestuur word, en nie ’n federasie nie. Dit maak die gebruik van digitale tegnologie, werwing, kommunikasie, mandaatgewing en saakgerigte optrede makliker. Direkte kommunikasie met ons lede verseker dat die netwerk nie lamgelê word deur argaïese strukture en dat hul stemme nie só verlore gaan nie,” verduidelik Rossouw.

“Saai is besig om samewerkings- en netwerkooreenkomste, en wedersydse ondersteuning te formaliseer met landbou-ondernemings, bedryfsorganisasies, navorsingsinstellings en landbou-organisasies wat op ander steunbasisse fokus. Die nuwe organisasie sal ook saakgerigte aksies neem, soos hulpverlening aan grondeienaars wat die slagoffers van plaasbesettings, plaasaanvalle, onteiening teen geen- of verminderde vergoeding en intimidasie is,” sê De Jager.

Saai se vertrekpunt met betrekking tot die onteiening van grond is dat markwaardevergoeding die goedkoopste en enigste volhoubare wyse is om die soort van beleggings en groei in die landbousektor teweeg te bring waarin grondbegunstigdes en ander nuwe toetreders sal kan gedy. “Al waarborg die Grondwet nie markverwante vergoeding nie, word dit ook nie verbied nie. Onteiening wat nie teen markverwantevergoeding geskied nie, sal daarop neerkom dat individuele grondeienaars die rekening vir ’n nasionale verantwoordelikheid moet betaal,” sê Rossouw.

Saai vul die leemte van ’n broodnodige ondersteuningsraamwerk vir alle boere. Dit is tyd dat boere direkte seggenskap het in kwessies wat hulle raak. Saai moedig boere aan om by die familieboerlandbounetwerk aan te sluit. SLUIT AAN.