fbpx

Afsterwe van dr. Mahlati ’n groot verlies vir die landbougemeenskap

Saai het met ontnugtering en mededoë verneem dat dr. Vuyo Mahlati, die president van die African Farmers Association of South Africa (AFASA) onverwags oorlede is.

Dr. Mahlati was ’n landbouleier in eie reg en het nie net die behoeftes beklemtoon en die strewe en drome van swart boere in Suid-Afrika verwoord nie, maar sy het ook die belange van vroulike boere op die voorgrond gebring tydens ’n era toe daar niemand anders was om dié rol te vervul nie.

Wanneer daar oor kleinboere en begunstigdes van grondhervorming gedebatteer is, het sy telkens bygedra tot regmatigheid, dringendheid en beleidsinhoud. Die waarde wat sy toegevoeg het tot die gesprekvoering oor landbou onder boere en ander rolspelers in die waardeketting, het Suid-Afrika ’n beter plek gemaak.

“Haar heengaan laat ’n leemte wat ver buite haar eie organisasie strek. Saai wil namens die land se familieboere ons meegevoel uitspreek teenoor dr. Mahlati se familie, vriende en kollegas; en die lede en bestuur van AFASA. Mag sy in vrede rus,” sê dr. Theo de Jager, Saai se direksievoorsitter.