fbpx

Aanlyn aansoekplatform vir CADS-fonds nou beskikbaar

Saai – ’n organisasie wat na die belange van familieboere omsien – het ’n aanlyn platform geskep wat kleinskaalboere wat finansiële nood ervaar in staat stel om aansoek te doen vir fondse vanuit die COVID-19-landbourampondersteuningsfonds (CADS-fonds). Aansoeke vir die fonds het op 8 April 2020 geopen en sluit op 22 April 2020.

Thoko Didiza, Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, het die departement se ingrypings om die impak van COVID-19 te verlig, op 6 April 2020 aangekondig. Die departement het R1,2 miljard beskikbaar gestel om hoofsaaklik hulp aan kleinskaalboere in finansiële nood te bied. R400 miljoen van die R1,2 miljard is aan boere in die proaktiewe grondverkrygingstrategie (PLAS)-program toegeken terwyl die oorblywende geld aan boere in hoofsaaklik die pluimvee-, groente- en ander veekommoditeitsektore toegeken sal word. Ander kommoditeitsektore sal per geval geëvalueer word.

“Ons het ons platform vir COVID-19-reispermitte op 25 Maart 2020 van stapel gestuur wat duisende boere regoor Suid-Afrika binne minute gehelp het om ’n reispermit te bekom. Ons hoop om dieselfde met die CADS-fonds se aansoekproses te doen,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Die grootste probleem is egter dat die meeste boere wat vir dié fonds kwalifiseer nie oor die nodige hulpbronne beskik om die dokumente wat voltooi moet word, uit te druk of te skandeer nie. Die aanlyn platform wat Saai geskep het, maak dit vir boere moontlik om al die vereiste inligting digitaal in te voer en die vorms in te dien sonder die gewone rompslomp,” sê Rossouw.

Sodra die vorms op Saai se platform voltooi en ingedien is, word dit elektronies by [email protected] ingedien en aansoekers sal ook ’n kopie van hul rekords ontvang.

Besoek die aanlyn platform by https://bit.ly/CADSFund of stuur jou naam en van via WhatsApp na 066 071 6094.